Quantcast
Channel: Marguerite van Wyk – SARIE
Viewing all articles
Browse latest Browse all 128

‘Dis soos kuns’– Ntsiki Biyela

$
0
0

Wynpionier: Ntsiki Biyela, bekroonde wynmaker

Sy het haar eerste glas wyn – ’n rooie – eers op twintig gedrink. Vandag is Ntsiki Biyela Suid-Afrika se eerste swart vrouewynmaker. En haar pryse, waaronder Suid-Afrika se Vrouewynmaker van die Jaar (2009), hoop op.

Deesdae konsulteer sy by die boetiek-wynvervaardiger Stellekaya, buite Stellenbosch, waar sy vroeër hoofwynmaker was. “Op skool  op Ulundi in KwaZulu-Natal wou ek eintlik ’n ingenieur word, maar ná matriek was daar net beurse in wingerd- en wynkunde beskikbaar.”

Altyd oop vir nuwe ervarings, besluit sy toe om dít te studeer. Sy het in 2003 graad gekry aan die Universiteit Stellenbosch en beskryf dié ervaring as “surrealisties”. “Wyn is nie deel van ons kultuur nie, maar ’n wynmaker ís tog ’n soort ingenieur,” lag sy.

Vroeër vanjaar het sy haar eie rooiwyn, Aslina (’n Bordeaux-versnit), na haar ouma vernoem, oorsee bekendgestel. “My ouma het my en my sewe broers en susters op een pensioen grootgemaak. Sy was ’n liefdevolle mens en het my gewys enigiets is moontlik.”

Ntsiki glo goeie wyn is nes kuns. “Elke mens hou van iets anders, maar baláns is belangrik.” Wynkennis wat sy onder meer in Bordeaux, Frankryk, en Toskane, Italië, opgedoen het, het haar vaardighede geslyp.

“My werk is nooit dieselfde nie, maar dit is altyd kreatief en speels, hoewel dit ook tegniese kennis verg. En dit is áárds. Wyn lewe.”

Sy vertel sy wil nog baie wyne met haar eie etiket skep. “Veral rooiwyn. My gunsteling is tans my Stellekaya Malbec met sy robuuste, fluweelsagte smaak.”

Passie en liefde is vir haar alles. “Ek wil kliënte gelukkig hou – dit was spesiaal toe my Stellekaya Cabernet eenkeer as ‘’n lady in ’n balrok’ beskryf is . . . elegant en sensueel.” Sy lig ’n glasie op al die vroue van Suid-Afrika.

“Ons verdien om elke dag van die jaar vereer te word. En mans moet ook opgevoed word oor vrouesake.”

Lees nóg inspirasie-vroue se stories HIER

The post ‘Dis soos kuns’ – Ntsiki Biyela appeared first on SARIE.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 128