Op 10 Julie het Quinne Brown, op haar dag die vrolike kelnerin Connie van der Lecq in die sepie 7de Laan, weer na Suid-Afrika teruggetrek.
Sy het in 2005 in Amerika gaan woon, is later getroud en het twee kinders in die vreemde gekry.
Destyds, voor hul trek na Amerika, het Quinne in SARIE se Januarie 2005-uitgawe gesê: “Ek sal nooit permanent oorsee kan gaan woon nie. ’n Mens sal natuurlik die kans om oorsee te gaan werk en woon aangryp. Maar ek wil terugkeer na my land. Die kleure, mense, pap, vleis en musiek: David Kramer, Miriam Makeba, Hugh Masekela, Vusi Mahlasela, Gloria Bosman. Musiek is soos ’n stuk van ’n land se siel wat jy saamdra.’’
Quinne erken dit is “opwindend en scary om terug te wees“. Hulle het ’n lang vlug oor Ethiopië gehad en dit het sowat twee weke geduur voor hulle weer mens gevoel het. “Jetlag is geen grap met twee kinders, Lara (2) en Charlotte (4), nie. Gelukkig is ons almal gesond en het ons ’n goeie sin vir humor. Dit is ook heerlik dat my man, Ryan, ’n watertegnoloog, nou hier woon.”
Volgens Quinne is hy ’n toegewyde, fun pa.
“In die verlede moes ons so dikwels alleen vlieg, maar het so twee jaar gelede besluit om reise saam te doen, ter wille van ons harte en die kinders s’n, want hulle het hul pa te veel gemis. . .’’
Die lekkerte van terugwees?
“Waar begin ek? Familie wat weer naby is, bekende strate, ons eie huis, biltong, Ouma se kos en liefde en drukkies. Selfs die winter is lekker ná die eindelose somer van San Diego, VSA. En dan is daar rooiwyn en vriende sonder die haas van té min tyd hê as mense hier kuier.’’
Sy is opgewonde om weer deel van die opwindende “storie-vertel”-wêreld in Suid-Afrika se rolprent- en televisiebedryf te wees.
“In my eerste twee weke terug in Suid-Afrika was ek al vir ’n klomp oudisies vir ’n hele spul lekker projekte.’’
Sy is ook in haar hart vir ewig ’n doula, iemand wat vroue voor, tydens en ná die geboorte van ’n baba bystaan en ondersteun.
The post Quinne is by die huis appeared first on SARIE.