Koos Kombuis was op die randjie van uitbrand voor hy besluit het om te begin werk aan sy nuwe album, Langpad na Lekkersing, met die rooivellie-man, David Kramer, as muse ...
Koos is die rapper Snotkop se grootste inspirasie. Die twee het onlangs saam verskyn in die musiekvideo van “Cool soos Koos Kombuis”, die eerste snit van Snotkop se nuwe album, HKGK, wat onlangs bekend gestel is. Dit was een van Snotkop se grootste drome om met Koos, sy held van kindertyd, saam te werk.
“Ek was omgeboul toe hy my vra of ek saam met hom op die video wil sing. Wat ’n kompliment,’’ vertel Koos.’’Toe ons van aangesig tot aangesig gesels het, kon ek agterkom dit was nie net ’n publisiteitsfoefie nie, hy het dit bedoel.’’
Die twee het glo baie sports gehad met die verfliming daarvan.
“Ons het diep gesprekke gehad. Ek is gemaklik by hom, hy is intelligent, nuuskierig en geesdriftig,” laat Koos val.
Hy is veral ingenome daarmee dat Snotkop sy werk en sy private lewe skei. “Ek wens ek het op ’n jonger ouderdom al oor die dinge gedink.”
Boonop het Snotkop laat weet hy wil geld skenk vir Koos se CD.
“Ek was baie verbaas. Aanvanklik het ek gedink dit kos sowat R100 000 om ’n CD te maak, maar toe vind ons uit dit is nader aan R300 000 om ’n ordentlik produk te vervaardig.”
Danksy Snotkop is sowat R160 000 reeds vir Koos se CD ingesamel.
“Ek sal eers begin asemhaal as ons oor die R200 000-merk is,” vertel Koos.
Die album is opgedra aan David Kramer en bevat al die beste liedjies wat Koos die afgelope paar jaar geskryf het. Kunstenaars soos Anna Davel, Riku Lätti, David Kramer, Ramon Alexander en Willim Welsyn gaan deel wees van die proses.
Koos het tydens die skryf van die liedjies baie gedink aan die ontslape sanger en liedjieskrywer Lucas Maree.
“Ek is ook besig om my musiekwortels te ontdek deur die klanke van onder meer Tribal Echo, en die Soet Stemme en die Langbroeke van Solms Delta.”
Die album sal, as als goed gaan, volgende jaar op die rak wees.
– As jy geld wil bydra, kan jy ’n getekende album oor die pos ontvang en jou naam sal as donateur in die albumboekie verskyn. Bestel die album by http://jumpstarter.co.za/campaigns.koos-kombuis-cd/
The post Koos Kombuis op randjie van uitbrand voor CD appeared first on SARIE.