Verlede jaar het hy in die stof geriel as Abraham in die gelyknamige rolprent deur rolprentmaker Jans Rautenbach. Vroeër vanjaar het Dann-Jacques (DJ) Mouton by die gewilde SABC2-sepie 7de Laan aangesluit as die karakter Justin … En nou, by die kykNET Silwerskermfees in Kampsbaai, skitter hy in Noem my Skollie.
“Dis ’n ware verhaal en speel in die sixties op die Cape Flats af. John F. Fredericks, die skrywer, was op stel. Hy het my gehelp om in die psige van AB, my karakter, te kom, maar die stakes was soms hoog. Dis nie altyd maklik om die skrywer op stel te hê nie. Dis ’n push-en-pull-situasie. “
Maar hy het gehou van die rol.
“AB is mos maar net mens, vol emosie. Ek hou van emosie. Ons is mos maar almal bietjie lover, vriend, familiemens … Iets van alles. Ons wissel mos. Nee, ek verstaan daai emosies.”
Hy het musiek gebruik om voor te berei vir die rol. “Musiek help baie met emosionele prep. Om my in ’n stemming te kry … Vir skote wat in die tronk afspeel, het ek veral na rap, baie na Hemelbesem, geluister. Ek het ook na baie gewelddadige video’s gekyk om voor te berei vir bakleitonele en jazzy trompetklanke van Miles Davis vir tere liefdestonele … Jy moes stamina hê vir die fliek. Om gevegstonele oortuigend te doen sonder om mekaar te beseer, laat jou sweet!”
Die fliek duur sowat twee en ’n half uur. Sy vriend, akteur Christo Davids, reken daar is styl-elemente van Hollywood-regisseurs soos Quentin Tarantino en Martin Scorsese in die fliek, vertel hy.
Die fliek se boodskap? Vergifnis.
“Ons moet mekaar in die oë kyk, jammer sê en aanbeweeg. Ons moet mense wat verbrou kans gee om reg te maak en hulself te bewys … Dit help my ook as akteur – wees vrygewig teenoor medespelers. Ons almal maak foute, maar beweeg aan. Ek leer altyd iets uit projekte … Neem iets saam.”
Hy meen ons moet trots wees op Suid-Afrikaanse stories en dit kyk.
Kyk die lokprent hier:
Hy span hom nou voltyds toe op 7de Laan. “Dis nuut en fun en ’n uitdaging. Ek leer baie. Jy moet fyn trap, want dinge gebeur vinnig. Om daagliks woorde te leer – daai is deel van die challenge.”
The post 7de Laan se Justin nou Skollie … appeared first on SARIE.