Verveling, ’n vaal sekslewe, ’n man wat jou afskeep, is almal “verskonings” vir ’n affair. Maar menopouse? ’n Voormalige Wimbledon-tenniskampioen het onlangs bely dís die rede waarom sy haar man verneuk het. Maar kan dit só eenvoudig wees?
Chris Evert, nou 62, het verlede jaar die sluier gelig oor haar egskeiding in 2006 van die Olimpiese ski-kampioen Andy Mills, die pa van haar drie seuns. Sy is toe in Junie 2008 met die gholfspeler Greg Norman, ’n vriend van Andy, getroud nadat hul affair haar vorige huwelik in duie laat stort het. Die nuwe huwelik het egter net vyftien maande gehou.
Toe sy in 2011 met US Elle oor haar mislukte huwelik met Andy gepraat het, het sy gesê: “Ek moes dinge dadelik in die kiem gesmoor en daaroor gekommunikeer het, maar ek het nie.”
Meer onlangs het sy in ’n potgooi, The Forward Podcast, vir die onderhoudvoerder Lance Armstrong, die eens befaamde fietsryer, gesê: “Ek weet nie, ek het deur menopousale goed gegaan waaroor ’n mens nie genoeg praat nie. Jy weet, goed waardeur vroue gaan as hulle so in hul vyftigs is.” Sy en Andy is nou weer baie na aan mekaar, en hoewel hulle nie saamwoon nie, beskryf sy hulle in die onderhoud as “’n gesin”.
Nou het ons alles gehoor – onbevredigende seks, te min aandag, wraak – ja, dis verskonings vir huweliksontrou wat ons ken! Maar die menopouse? Is dit nie ’n bietjie dik vir ’n daalder nie, vra ons en menige oorsese rubriekskrywer. Chrissie, op haar dag die liefling van die Wimbledon-skare wat geen voet op die baan verkeerd kon sit nie, se donkerder kant is inderdaad deur daardie affair ontbloot.
Die affair is ook nie die eerste een waarvan sy beskuldig is nie. Sy het in die sewentigs, vroeg in haar tennisloopbaan, halsoorkop verlief geraak en op trou gestaan met Jimmy Connors. Hy het weens sy plofbare humeur en swak gedrag op die baan destyds as tennis se “bad boy” bekend gestaan. Maar toe, skielik, is die troue afgelas – en almal het gewonder hoekom. Jimmy het eers jare later in 2013 in sy biografie, The Outsider (Barnes & Noble), verklap dat hulle albei gereeld die kat in die donker geknyp het!
Oor of menopouse die skuld kan kry vir ontrouheid, sê die seksterapeut dr. Marelize Swart: “Affairs kom nie algemeen onder vroue in hul vyftigs voor nie, maar eerder by dié in hul twintigs, dertigs en veertigs. Dalk het Chrissie ’n grap gemaak. Mense verklap dikwels nie die werklike redes vir huweliksontrou nie.”
Die meeste vroue kla ook juis in hul vyftigs oor ’n verlaagde libido weens verlaagde estrogeenvlakke. Ook is daar die kans op vaginale verdunning of inflammasie van die vaginale wand by sowat 45% van vroue in hul menopouse, wat groter sensitiwiteit en pynlike seks kan veroorsaak, verduidelik Sheryl Kingsberg, ’n afdelingshoof van die MacDonald Women’s Hospital in Cleveland, Ohio. Dit kan ook veroorsaak dat vroue nie lus is vir seks nie.
![]()
FOTO Unsplash / Scott Webb
Maar hoe algemeen is dit werklik?
Dr. Swart reken vroue wat in hul menopouse affairs aanknoop, doen dit om hormonale en sielkundige redes. Internasionale navorsing wys dat die toename in buite-egtelike verhoudings onder vroue baie naby aan dié van mans is – en waarskynlik onder alle ouderdomsgroepe. “Mense lewe langer en daarom raak dit al hoe moeiliker vir langtermynverhoudings om sterk te staan teen nuwe tegnologiese uitvindsels soos die slimfoon, internet en Facebook – wat ons almal toegang gee tot ou en nuwe romanses. Tegnologie maak dit soveel makliker om affairs te begin en voort te sit.”
Maar hoekom juis in die middeljare? Volgens ’n blog vir menopousale vroue* is daar verskeie redes. Baie mans soek in hul middeljare ’n vinnige rooi sportmotor vir meer avontuur, terwyl ’n vrou dalk ’n jonger man wil verlei omdat sy uitgekuier is met ’n vaal sekslewe. Party vroue bly lank in die huwelik ter wille van die kinders en wanneer die leënessindroom toeslaan, soek hulle ’n manier om die leemte in hul lewe te vul. Baie vroue wil ’n einde aan die huwelik maak, maar het nie die moed nie. Deur haar man te verkul, hoop sy dalk dat dit uiteindelik op ’n egskeiding sal uitloop. Óf hulle wil ná jare se emosionele verwaarlosing dalk weer waardeer word.
Dr. Swart sê vroue se biologiese behoefte om die gesin bymekaar te hou is nie meer so intens in die middeljare nie. “In dié fase is daar ’n afname in oksitosien, die bonding-hormoon, en ’n toename in testosteroon, die onafhanklikheidshormoon. Dit lei daartoe dat sommige vroue minder geheg aan hul man voel, veral as hulle meen hulle word nie genoeg ondersteun nie. En dan loer vroue soms oor die draad.”
![]()
FOTO Unsplash / Nathan Walker
Of die menopouse egter die skuld vir egbreuk moet kry, is te betwyfel, meen die Johannesburgse seksterapeut dr. Elna McIntosh. “Vroue is geneig om iets anders die skuld gee, maar as ek na my pasiënte luister, is die grootste probleem dat hulle sukkel om te aanvaar dat hulle oud word. Hulle sê hulle word daartoe gedryf omdat hul sekslewe onbevredigend is, maar dit speel eintlik ’n klein rol. Ag, daar is ’n magdom redes. Middeljarige vroue wat buite-egtelike verhoudings aanknoop, doen dit dikwels met hul persoonlike afrigter omdat hul eie man sy voorkoms afskeep … Hulle soek tydelike opwinding, kitsbevrediging. Maar eintlik is daar dieper, onderliggende probleme in die huwelik. Ek sê altyd vir paartjies, you can’t make love and war. Sorteer eers jul huweliksprobleme uit …”
Dr. Swart beaam dit. “Menopousale vroue wat affairs het, het dit selde weens seks.” Sy voeg by: “Hulle wil eintlik maar emosionele of intellektuele behoeftes bevredig en voel ook dikwels hulle is by ’n keerpunt. Dit is hul laaste kans om as vrou waardeer te word. Baie voel ook ongelukkig oor wat hulle in hul lewe bereik het, terwyl mans in hul middeljare gewoonlik baie goed oor hulself voel. Vroue wat ’n bietjie wil uitbreek in dié tyd, sal dikwels sê: ‘Ek was vir my kinders ’n ma, ’n vrou vir my man, maar nou gaan ek myself wees en regtig my lewe leef’,” sê sy.
’n Professionele vrou in haar laat sestigs, wat anoniem wil bly, vertel dat sy en haar vriendinne in ’n nuwe era grootgeword het wat seksuele gedrag betref. “Ons was jonk al seksueel aktief en in beheer van ons sekslewe. Vir dié van ons vir wie dit ’n plesier was, was daar nog nooit die gewone, tradisionele grense soos ouderdom nie – en daar is wel van my vriendinne wat in hul menopouse langtermynverhoudings verlaat het nadat hulle iemand meer opwindend, en dikwels jonger, ontmoet het. Ek wil my nie graag oor ontrouheid uitspreek nie, maar geeneen van ons is deur die menopouse gestuit nie – dit het ons skaars gekwel, behalwe dat dit beteken het jy kan nie meer swanger raak nie.
![]()
FOTO Unsplash / Andrew Robles
“Met hormoonvervangingsterapie is die fisieke probleme deesdae hanteerbaar. Daar is ook vroue wat lank getroud en lief vir hul man was, wat nuuskerig begin raak het oor ’n meer vervulde sekslewe en in hul menopouse uitgebreek het.”
In Chrissie se geval was haar affair, wat uitgeloop het op ’n huwelik, kortstondig. “Vroue het dikwels ’n behoefte aan sekerheid, hulle wil trou met hul nuwe liefde. Mans sal veel eerder net ’n verhouding aanknoop, maar nog steeds by my bieg hoe lief hy vir sy vrou is. Soms is daar groot finansiële implikasies met ’n egskeiding, wat mans ook huiwerig maak om te skei,” vertel dr. McIntosh. “Warrelwind-romanses in vroue se middeljare is presies dit – ’n warrelwind. Werk liefs aan die verhouding voor een uit die huis waai,” sê sy.
Jy sien gevaartekens. Wat nou?
Volgens dr. Swart moet jy nooit ’n besluit neem om ’n verhouding te beëindig wanneer jy desperaat of emosioneel is nie. “Praat met iemand, verstaan jou emosionele verandering. Lees byvoorbeeld The Wisdom of Menopause (2001, Jonathan Ball) deur dr. Christiane Northrup of The Female Brain (2008, Penguin Random House) deur Louann Brizendine, sodat jy kan verstaan wat fisiek en emosioneel met jou gebeur,” stel sy voor.
Larissa Ernst, kliniese sielkundige van Kaapstad, sê: “Die grootste uitdaging is om in elke lewensfase eerlik met jouself te wees, want jou behoeftes verander voortdurend. Maak seker jy bly in voeling met wat jou vervuld maak – ook in jou huwelik. Bespreek dit met jou maat. Die grootste gevaarteken is as jy kontak met ander mans begin opsoek en besef jy geniet die aandag. Onthou, ’n affair bring gewoonlik pyn. Maar ’n verhouding is nooit totaal verlore daarna nie. Dit kan jou dalk laat besef dat jy jou huwelik as vanselfsprekend aanvaar het. Dit bied jou geleentheid om te reflekteer oor jou behoeftes en ook die van jou maat en hoe om dinge in jul huwelik te verander nadat julle met mekaar daaroor gepraat het.”
The post Affair … menopouse se skuld? appeared first on SARIE.